Slaap Artikel 3
Daar bestaan ‘n uiters seldsame siekte genaamd “dodelike familiële slaaploosheid”. ‘n Oorgeërfde geen tas sekere proteïene in die brein aan wat dele van die talamus aanval. Dié dele is gemoeid met die blok van informasie vanaf die sintuie: ‘n belangrike voorvereiste vir slaap. Ander seine vanaf die brein om die metabolisme, temperatuur, bloeddruk en harttempo te verlaag sodat slaap kan intree, loop ook deur die talamus. Dié boodskappe kan ook nie by die liggaam uitkom nie, met tragiese gevolge. Dit lyk of die genetiese oorsprong by ‘n paar Italiaanse families voorkom en ‘n kuur is nog nie gevind nie. Mense met dié geen ervaar later totale slaaploosheid, hul gesondheid gaan vinnig agteruit en hulle sterf. Sover bekend, lyk dit nie of enige Suid-Afrikaanse familie dié geen geërf het nie.
Met ‘n omstrede studie in die 1980’s by die Universiteit van Chicago is gevind dat rotte wat konstant wakker gehou is, gemiddeld agtien dae neem om te sterf. Net so lank soos rotte wat geen kos gekry het nie. Die eksperiment het ook vasgestel dat rotte wat van alle REM-slaap weerhou is, binne twee maande doodgaan. Dié wat van nie-REM-slaap weerhou is, kon ‘n maand langer uithou. Die slaaplose rotte kon nie hul liggaamstemperatuur reguleer nie en het al meer gewig verloor in ‘n poging om hitte op te bou. Hul immuunstelsels het begin ingee en infeksies het toegeneem. Uiteindelik is hulle geteister met onder andere maagsere, verkleinde organe, vergrote limfkliere en verhoogde streshormoonvlakke. Die finale diagnose was septisemie. ‘n Eeu vantevore het ‘n studie in Rusland dieselfde bevind met honde wat van slaap weerhou is. Gelukkig hoef dié navorsing nooit weer herhaal te word nie.
Die ideale hoeveelheid slaap wissel met ouderdom. Vir die gemiddelde volwassene is sewe tot nege ure se slaap elke aand ‘n moet. Die menslike fetus is die meeste van die tyd in ‘n slaaptoestand wat bestaan uit ongeveer ses ure REM-slaap, ses ure nie-REM-slaap en twaalf ure in ‘n semi-slaaptoestand. Met die laaste trimester is die fetus maksimum twee tot drie ure per dag wakker. Nader aan geboorte verhoog die REM-slaap tot sowat twaalf ure per dag. Miljoene nuwe neurologiese konneksies word dan in die brein geskep. Na geboorte daal die behoefte aan slaap. Op ses maande slaap ‘n kind veertien ure in totaal, verspreid oor ‘n 24-uur-periode. Die biologiese horlosie ontwikkel dan stelselmatig deur middel van sonlig en ‘n kind slaap al minder gedurende die dag. ‘n Vyfjarige slaap meestal in die nag vir ongeveer elf ure.
Gedurende die tienerjare skuif die biologiese horlosie met ‘n paar uur vorentoe en tieners behoort eintlik eers teen middernag te gaan slaap en laat-oggend op te staan. Die huidige skoolsisteem maak dus nie sin nie en dié praktyk behoort gestaak te word as ons beter uitkomste vir ons kinders wil hê. Eers met volwassenheid skuif hierdie horlosie weer terug. Slaap tydens die tienerjare bevat baie meer nie-REM-slaap as in enige ander ouderdomsgroepering. Die funksie daarvan is om alle onnodige neurologiese konneksies te snoei sodat slegs die effektiefste behoue kan bly. Die snoeiskêr word heel laaste by die frontale lobbe ingelê, die dele wat bepalend is vir persoonlikheid, insig, oordeel, beplanning, gemoedsregulering ensomeer. Volwassenheid tree uiteindelik dan eers kort voor jou dertigste jaar in.
Ná die tienerjare begin diep nie-REM-slaap geleidelik afneem. In die laat veertigs slaap jy al 65% minder diepslaap en teen die tyd wat jy 70 jaar oud is, het jy alreeds 85% van jou diepslaap verloor. Baie mediese probleme vir die ouer persoon is waarskynlik deels die gevolg van slaapprobleme en moet dadelik aangespreek word. Bejaardes se biologiese horlosie skuif weer terug en hulle moet al vroeër in die aand gaan slaap.

Comments