Outoritêr en Voorskriftelik
Dit gebeur soms dat ‘n eggenoot dominerend en voorskriftelik raak en dat hierdie gedrag ‘n kort aanloop het. Maar meestal is dit ‘n gedragspatroon wat al sedert die begin van die verhouding teenwoordig was, of wat geleidelik oor jare ontwikkel het. Wanneer dit egter skielik ‘n aanvang neem, is dit dikwels in reaksie op ‘n gade se gedrag of tydens ‘n fase in die huwelik waar onsekerheid teenwoordig is, soos met ‘n werksverandering. Hierdie onsekerheid kan ‘n persoon voorskriftelik laat optree in ‘n poging om ten minste een aspek in die lewe in te perk sodat daar geen kans kan wees dat hierdie belangrikste verhouding skipbreuk lei nie. Dit is dus ‘n poging tot beheer en in diepste wese spruit dit uit ‘n onsekerheid en ontoereikendheid in die self.
Indien sulke gedrag nie betyds aangespreek word nie lei dit gewoonlik na een van twee scenario’s: die onderdrukte begin al meer ‘n marionet word en gehoorsaam (uit vrees) om die vrede te bewaar, of dit lei tot ‘n totale verlies aan respek en uiteindelik gebeur presies dit wat die dominante een probeer verhoed, naamlik skeiding en verwerping.
Ja dit gebeur wel dat mens die pad soms byster raak en deur middel van grense beperk moet word, maar daar is ook ander suksesvolle maniere om dit te vermag. Oop gesprek bly maar ‘n wenner. Voorskriftelikheid lei tot weerstand en weerstand tot woede en uiteindelik walging. “Ek voel”- boodskappe wat duidelik uitdruk hoe iets my affekteer skep geleentheid vir dialoog. Later kan versigtig getoets word hoe die ander een voel en waarom hy of sy dit nodig ag om te hiet en gebied. Die boodskap moet ook oorgebring word dat sulke gesprekke kan lei tot die verruiming van die huweliksinteraksie.

Comments