top of page

Fopnuus

Writer: Tjaart van der Walt
Tjaart van der Walt
Sep 24
6 min read

In die Vrye Weekblad (VWB) van 24 April het ‘n artikel verskyn met die opskrif: Van 5G tot giftige toetse – hoekom mense bogstories wil glo. In my kommentaar noem ek dat ‘n poging om die vraag te beantwoord maar skraps is (‘n enkele paragraaf) en dat VWB beter kan doen deur ordentlike navorsingsartikels oor die onderwerp op te spoor of opinies van ‘n paar kliniese sielkundiges te kry.


Die artikel se voorgestelde antwoord op die opskrifvraag is in elk geval net geldig vir diegene wat ‘uitermate agterdogtig is’ en ‘weier om bewyse te glo’. Die drie sielkundige motiewe wat voorgehou word, is dus irrelevant met betrekking tot die artikel se deursneeleser, of selfs enige gemiddelde Suid-Afrikaner. Die probleem met fopnuus het ook meer te doen met mense wat iets nuuts begin glo, eerder as mense wat moet ophou om ou samesweringsteorieë te glo.


Niemand van VWB het op my kommentaar gereageer nie en ek het besluit om self die bul by die horings te pak. Ek fokus meerendeels op hoekom mense bogstories glo en maak daarna ook ‘n paar voorstelle oor hoe om te waak teen die fopnuusvortex. ‘n Lys van die bronne wat ek geraadpleeg het, is aangeheg.


Dit is ironies dat die verspreiding van fopnuus deur middel van sosiale netwerke baie ooreenstem met hoe aansteeklike siektes (lees Coronavirus) versprei: ‘n rimpeleffek met verhoogde diversiteit soos die sogenaamde nuus wyer uitkring. (1) Vals stories versprei ook baie vinniger en wyer as die waarheid. (2) Die volgende faktore speel in ‘n meerdere of mindere maat ‘n rol in die glo van fopnuus:


1. Emosionele opwekking


Informasie wat sterk emosie ontlok, het ‘n veel groter effek op mense se opinies as objektiewe feite. (3) Vroeër is gedink dat die drie K’s (konflik, krisis en katastrofe) die groot sondaars is, maar meer onlangs is bevind dat enige intense emosie, maar veral humor, woede, angs en walging, ‘n rol speel. (4, 5) Nie net in die glo van die nuus nie, maar ook in die aanstuur daarvan. (6)


2. Oortuigingsbevestiging


Indien informasie ooreenstem met mense se huidige lewens-en-wêreld-beskouing, aanvaar hulle dit makliker as die waarheid. Hierdie grotendeels onbewuste vooroordeel affekteer hul houding ten opsigte van nuwe informasie. Dit blyk dat politieke oortuigings die sterkste effek het, selfs groter as opvoedkundige kwalifikasies of ouderdom. (7)


3. Ontspanne luim


Indien mens in ‘n ontspanne situasie is, het jy ‘n verminderde kritiese denkvermoë. Navorsing het bewys dat die glo van bogstories betekenisvol (p<0.01) eskaleer wanneer mense iets eet of drink. (3,8)


4. Hoë ouderdom


Persone bo die ouderdom van 65 is meer geneig om fopnuus te glo. Dit is vir hulle moeilik om vasgelegde oortuigings aan te pas, selfs nadat hierdie oortuigings as verkeerd bewys is. Indien hulle wel van opinie verander, blyk dit dat hulle nie die veranderinge kan volhou nie. (9)


5. Universiteitsopleiding


Dit blyk dat persone met universiteitsopleiding ‘n beter vermoë het om feite te onderskei van opinies. (9) Hoër tellings op ‘n redenasietoets is ook geassosieer met ‘n beter vermoë om fopnuus van ware nuus te onderskei. Mense wat fopnuus glo, is dikwels geneig om nie hard genoeg of krities genoeg te dink oor wat hulle sien en hoor nie. (10)


6. Taalbemeestering


In Suid-Afrika word die grootste hoeveelheid mense aan fopnuus blootgestel in ‘n tweede of derde taal. Die gebruiker se vermoë om dus subtiele nuanses in sosiale media waar te neem, is beperk of bykans afwesig.


7. Waarheids-illusie-effek


Sedert die Tweede Wêreldoorlog is dit al wetenskaplik bevestig dat die herhaling van gerugte daartoe lei dat mense die boodskap glo, selfs al weet hulle van beter. (7, 8) Hoe meer mens iets hoor, hoe waarder klink dit. Dit is die rede waarom advertensies werk en propaganda so kragtig is. Mense bly vasklou aan ‘n vals gerug al word daar genoem dat die boodskap betwis word deur onafhanklike feitetoetsers. (11) Faktore soos intellektuele en selfs analitiese vermoë waarborg nie noodwendig immuniteit teen hierdie illusie nie. (12)


8. Eenvoud van boodskap


Ons breine hou van informasie wat “reg lyk” aangesien dit maklik is om te verwerk. Die brein se vinnige intuïtiewe stelsel neem sulke informasie op sigwaarde. Meer energie is dan beskikbaar vir ander lewensnoodsaaklike take. (9) Eksperimente het al bewys dat moeilik verteerbare informasie moeiliker geglo word. Selfs lettergrootte en taalgebruik speel ‘n rol. (13) Hoe makliker iets lees, hoe meer geloofwaardig word dit geag deur die intuïtiewe stelsel. Veral illustrasies, foto’s, beelde en rymwoorde dra hiertoe by. (14)


9. Sosiale invloed


Wanneer mense gekonfronteer word met ‘n groot hoeveelheid onbekende materiaal is hulle dikwels geneig om die mense rondom hulle dop te hou (die sogenaamde vriende op sosiale media) om te sien wat húlle glo en doen daaromtrent. Dit is uitstekende taktiek as mens seker is dat die vriende toegang het tot baie akkurate informasie en dat dit wat hulle glo, ooreenstem met die nie-verbale gedrag wat mens by hulle sien. As hulle egter fouteer, lei die een spreekwoordelike blinde die ander.


10. Blaaispoed


Dit verg tyd en inspanning om die logiese, analitiese deel van die brein te aktiveer. Wanneer mens vinnig deur internetblaaie lees, skakel die analitiese deel van die brein nie aan nie en die meeste inligting kry dan die eienskap van suggestie, soos met advertensies.


***


Dit is nie net naïewe, dom mense wat deur fopnuus op loop geneem word nie. (16) Almal van ons loop die risiko om een of ander tyd ‘n fopstorie te glo, en hoe meer van die bogenoemde faktore teenwoordig is, hoe groter die kans.


Ek stel die volgende teenvoeters voor:


Moenie nuus vir ontspanning lees nie, veral nie wanneer jy eet of drink nie.


Blaai stadiger deur internetblaaie en steur jou net aan terugvoer van die mense wie se oordeel jy werklik vertrou.


Skakel die analitiese deel van jou brein aan deur die hele berig met aandag te lees.


Doen kruiskontroleringsoektogte om meer inligting oor die outeur, bronne of onderwerp op te spoor.


Wees versigtig wanneer artikels sterk emosies by jou ontlok of wanneer dit tot jou politieke voorkeur of afkeur spreek.


Wees ekstra versigtig wanneer jy artikels lees wat nie in jou moedertaal geskryf is nie. Lees met skeptisisme sonder om sinies te wees.


Maak gebruik van feitetoetsers. ‘n Lys van meer as ‘n honderd webtuistes wat spesialiseer in die objektiewe toets van politieke en ander feite is beskikbaar op Wikipedia. (17) Hierdie organisasies evalueer alle kante van die saak, is deursigtig en verskaf geloofwaardige gevolgtrekkings.


Ter afsluiting is dit goed om herhinner te word aan Isabella Blagden se woorde: “If a lie is only printed often enough, it becomes the quasi truth, and if such a truth is repeated often enough, it becomes an article of believe, a dogma, and men will die for it.”


Bronne


[1] Kucharski, A. (2016). Post-truth: Study epidemiology of fake news. Nature, 51-59.


[2] Vosoughi, S., &amp; Roy, D. &amp;. (2018). The spread of true and false news online. Science, 1146-1151.


[3] Kanoh, H. (2018). Why do people believe in fake news over the Internet? An understanding from the perspective of existence of the habit of eating and drinking. ScienceDirect , 1704-1709.


[4] Berger, J. (2011). Arousal Increases Social Transmission of Information . Psychological Science 22, 181.


[5] Berger, J., &amp; Milkman, K. (2012). What makes online content viral? Journal of Marketing Research 49, 192-205.


[6] Vosougi, S., &amp; Roy, D. &amp;. (2018). The spread of true and false news online . Science, 1146-1151.


[7] Hornsey, M. e. (2016). Meta-Analyses of the determinants and outcomes of belief in climate change. Nature climate change, 622.


[8] Allport, F., &amp; Lepkin, M. (1945). Wartime rumors of waste and special priviledge: Why some people believe them. The journal of abnormal and social psychology 40, 3.


[9] Dr. Vicol, D.-O. (2020). Who is most likely to believe and to share misinformation? Full Fact, Africa Check and Chequeado.


[10] Pennycook, G., &amp; Rand, D. (2019). Lazy, not biased: Susceptibility to partisan fake news is better explained by lack of reasoning than by motivated reasoning. Cognition, 39-50.


[11] Pennycook, G., Rand, D., &amp; Cannon, T. (2018). Prior exposure increases in precieved accuracy of fake news. Journal of experimental psychology: General.


[12] Warren, M. (2019, June 26). Higher intelligence and an analytical thinking style offer no protection against "The illusory truth effect"- our tendency to believe repeated claims are true. Retrieved from Research Digest: digest.bps.org.uk/2019/06/26/higher-intelligence-and- an-analytical-thinking-style-offer-no-protection-against-the-illusory-truth-effect-our-tendency-to-believe-repeated-claims-are-true


[13] Alter, A., &amp; Oppenheimer, D. (2009). Uniting the tribes of fluency to form a metacognitive nation. Peronality and social psychology review 13, 219-235.


[14] McGlone, M., &amp; Tofighbakhsh, J. (2000). Birds of a feather flock conjointly - Rhyme as reason in aphorisms. Psychological Science, 424-428.


[15] Blagden, I. (2012). The Crown of a Life, by the Author of 'agnes Tremorne'. Ulan Press.


[16] Fazio, L. e. (2015). Knowledge does not protect against illusory truth. Journal of experimental psychology: General, 993.


Comments


bottom of page