top of page

Tuine en psigologiese gesondheid

Writer: Tjaart van der Walt
Tjaart van der Walt
Sep 23
2 min read

Aangevra deur Eugene Gunning van Die Burger en gepubliseer op 27 Februarie 2016


As sielkundige is dit nogal uitdagend om oor tuine te skryf: Ek werk heeldag met dit wat mense glo, dink, voel en doen. Nie met tuine nie. Maar tog, ek hou van tuine en hoe meer ek daaroor lees, dink en praat, hoe duideliker word die verband tussen tuin en brein. Ons as mense is onafskeidelik deel van die natuur en dit het ‘n enorme effek op ons lewens.


Ek sou sekerlik hierdie paar honderd woorde kon volstop met wetenskaplike bewyse geneem uit goed nagevorste studies in vaktydskrifte. Oor die jare het vele van hierdie ondersoeke bevind dat die natuur, en tuine in besonder, ‘n positiewe impak op die mens se sielkundige welsyn het. Ek volstaan egter deur te noem dat tuine bydra tot drie areas van psigologiese welstand, naamlik die behoud van huidige geestelike gesondheid, die beskerming teen risiko’s vir die ontwikkeling van psigologiese probleme asook die bespoediging van die herstelproses nadat sielkundige probleme ervaar is.


Onderskat ons dan die waarde van tuine? Waarskynlik. Dit is maar eers onlangs dat “groen argitektuur” ‘n voet in die deur gekry het en water, plante en skadu begin bydra het tot byvoorbeeld temperatuurregulering. Met hierdie benadering word tuine nie net binne geboue ingebring nie, maar word dit selfs deel van die gebou se struktuur.


Dink ‘n bietjie terug aan jou lekker herinneringe as kind. Onthou jy ook ervarings soos boomklim, wegkruipertjie en krieket? Is dit eerder huisies bou met stoele en komberse of dalk op jou rug lê en wolkevorms identifiseer? Wat van saadjies oes van Namakwalandse daisies, paaie maak vir karretjies of skatte begrawe? Onthou jy die reuk van omgedolwe beddings en klam grond, vrugte of groente dalk? Gesnyde gras? Of is dit saans se klanke van krieke, paddas en uile …


Ek doen gereeld kliniese hipnoterapie en een van die basiese stappe wat pasiënte/kliënte moet bemeester, is om in hul gedagtewêreld ‘n veilige, rustige, ontspanne plek te skep of te herroep en hulself dan in daardie plek in te dink. Bykans almal kies ‘n plek in die natuur, dikwels ‘n woud, ‘n eiland, ‘n strand of ‘n tuin. Dit blyk ‘n verlange in meeste se onderbewuste te wees. ‘n Verlange om een met die natuur te word.


Tuine verskaf ruimte en interaksie met lewende organismes. Die oorheersende groen word allerweë as die kleur van groei en heling beskou. Tuine verskaf suurstof en stel ons bloot aan ‘n verskeidenheid reuke, klanke, kleure, teksture en smake. Dit maak ons (soms saai) bestaan dus voller en ryker in skakering. In ‘n tuin het jy die opsies om te versorg, te skep, te onderhou, uit te kap, te vervang of om net te wees. Jy word gekonfronteer met seisoene, lewensfases en transformasie, jeug en oudheid, groei en stagnasie, lewe en dood. Jy kan in elke klein besonderheid iets leer oor die lewe en daardeur verryk word.


Gun jy jouself hierdie voorreg? Benut jy regtig jou tuin? Gaan stap jy in die natuur? Gaan sit jy in ‘n park? Versorg jy ‘n potplant? Vorm jy ‘n bonsaiboompie? Gaan kamp jy? Of lê jy alweer heeldag voor die TV …


Komaan, vul jou kop en jou hart met ‘n stukkie natuur, en kies tog ‘n tuin eerder as ‘n woestyn.

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page