top of page

Hoe word ek heel indien ek grootgeword het by ouer(s) wat verslaafdeswas?

Writer: Tjaart van der Walt
Tjaart van der Walt
Sep 8
3 min read

Die grootste stap is om te erken dat my ouers se verslawing wel ‘n impak op my gehad het. Kinders wat so opgegroei het, gebruik altyd ontkenning as verdedigingsmeganisme. Dit is dikwels makliker om eers net te erken dat daar ‘n moontlikheid bestaan dat dit tans ‘n effek op jou kan hê. Dan eers kan jy begin om sekere gedragspatrone te herken, soos genoem in vorige bladsye, asook die effek

daarvan op die mense rondom jou. Raak bewus van watter rol jy as kind gespeel het en steeds herhaaldelik in verhoudings uitspeel.


Oudste kinders is geneig om die “hero” te wees. Prestasiegerigte, voorbeeldige,

oorverantwoordelike klein grootmensies wat sukkel om pret te hê. Jongstes is gewoonlik

gelukbringers wat almal moet laat lag. Hulle bly kind en sukkel om ernstig opgeneem te word. Tweede kinders word dikwels swartskape en moet die hele gesin se probleme namens hulle dra deur te rebelleer en al die konflik weg van die gesin te trek. Enigste kinders word weer die virtuoso en moet die ouers se totale ambisie najaag. Dan is daar ook die verlore kinders, dikwels die derde kind, wat geneig is om emosioneel en by tye selfs fisies te verdwyn.


Vind meer uit oor verslawing en die effek daarvan op gesinslede. Begin praat oor jou gevoelens en ervarings met persone wat jy kan vertrou soos familie, vriende, professionele persone en mense betrokke in 12-Stap programme. Vind uit of daar ACOA (adult children of alcoholic families) of ander ondersteuningsgroepe is en woon dit by. Geweldig baie inligting is op die internet beskikbaar. Gaan sien ‘n sielkundige, verkieslik een wat werk met verslawingsprobleme, en lees oor ko-afhanklikheid.


Hoe maak ek as volwassene indien my ouers tans aan iets verslaaf is?


As jy nie self hulp, kennis en ondersteuning ontvang nie, gaan jy net dieper wegsink in ‘n put van moedelose hulpeloosheid want al die pogings om te help het waarskynlik net die probleem vererger. Eers wanneer jy jou eie gevoelens en motiewe verstaan kan jy begin om jou verslawing aan jou ouer(s) te verminder. Sodoende sal jy kan kies om anders te reageer in dieselfde probleemsituasies.


Begin deur soveel as moontlik uit te vind oor die substans, die misbruik daarvan asook die verslawing daaraan. Sodoende kan jy die probleme rondom verslawing asook jou gevoelens daaroor beter hanteer. Vervolgens kan jy met jou ouer begin gesels oor die veranderinge in gedrag as gevolg van die middelgebruik. Alhoewel jy ferm moet wees is dit belangrik om respekvol te bly. Jou ouer gaan die fokus skuif na redes vir die gedrag. Daar’s altyd redes! Bly egter fokus op die probleemgedrag. Wees spesifiek oor presies waar die gedrag met sy/haar lewe inmeng. Gee ook hoop deur te noem dat verslawings behandelbaar is en bied ondersteuning aan.


As dit nie werk nie, kan ‘n professionele intervensie oorweeg word. Vriende, familie, werkgewers, ensovoorts, spreek saam ‘n professionele persoon en bespreek die probleem. Die datum, tyd en gekontroleerde plek word vasgestel vir die intervensie. Voor hierdie datum noem elkeen aan die persoon dat hulle ‘n professionele persoon spreek oor sy/haar probleem. Die persoon weet dus dat die belangrikste mense in sy/haar lewe besorg is en die intervensie kom dan nie as ‘n groot skok nie. Tydens die intervensie sê elkeen in sy eie woorde wat die effek van die persoon se gedrag is. Die

funksie van die intervensie is slegs om die persoon sover te kry om vir ‘n behandelingsprogram te gaan. Daar is egter ‘n paar vereistes waaraan sulke intervensies moet voldoen en dit dra ook risiko’s. Die besonderhede daarvan kan nie in hierdie beperkte formaat uitgelig word nie.


Wat kan ek te wagte wees op my pad van heelword en genesing ?


Die deurwerk van die impak van jou ouers se gedrag tydens jou kinderjare (of tans) is ‘n rouproses, juis omdat dit jóú ook affekteer het. Van ontkenning beweeg jy deur aggressie (teenoor hulle, jouself, God, ensovoorts) onderhandeling en depressie (oor als wat in die proses verlore geraak het) tot by aanvaarding en vergifnis. Moenie skrik of moed verloor wanneer jy op hierdie wipplank van emosies is nie. Gevoelens wat kan wissel van die vreugde wanneer verhoudings vlot verloop tot die diepste seer wanneer terugvalle na ou gedrag voorkom. Almal gaan hierdeur juis omdat dit normale

reaksies vir ‘n abnormale situasie is.

Comments


bottom of page