Huweliksmaats en ouers vra: Is dit mý skuld?
Is dit my skuld? Is ek aandadig? Dit is tipies wat deur ‘n ouer of huweliksmaat gevra word wanneer verslawing opdoem. Daar is minstens twee slaggate waarin jy kan trap. Eerstens kan jy al die blaam op jouself neem en redeneer dat dit jou gene en opvoeding is (met kinders) of dat ek my eggenoot daartoe dryf. Die tweede slaggat is om te dink dat jou optrede géén invloed op verslawende gedrag het nie.
Jy is nie die oorsaak nie. Jy kan dit nie genees nie. Jy kan dit nie beheer nie. Maar jy kan bydra tot die instandhouding of verergering van die probleem.
Vra jouself ook af: Hoe reageer ek teenoor die verslawing? Speel ek ‘n spesifieke rol in die gesin? Drie moontlikhede word bespreek:
Die Redder gebruik ontkenning en die verslaafde se probleme word toegesmeer. Jy lieg daaroor of praat nooit daaroor nie - maak maar skoon, sit in die bed, betaal self die skulde, ensovoorts. Jy neem al meer verantwoordelikhede op jou.
Die Aanstigter gebruik woede en straf die persoon vir verslawingsgedrag. Jy verkleineer, spot, karring en skel sodat almal kan hoor. Wanneer jy nie in woede uitblaker hoe ‘n papperd hy/sy is nie, gee jy die koue-skouer. Jy haal konstant ou koeie op en dreig dikwels jy gaan loop.
Die Martelaar gebruik depressie en is skaam vir die gedrag. Jy kerm en kla en laat mense verstaan hoe jy verneder word. Óf jy is só skaam dat jy niemand vertel van jou lyding nie. Jy word meer teruggetrokke en depressief. So stil-stil probeer jy die persoon skuldig laat voel oor die gedrag.
Natuurlik, of jy nou een rol speel of tussen hulle rondspring, nie een daarvan help nie. Al drie dra by tot verslawing en help om die probleem verder te laat vorder. Die Redder sorg dat die verslaafde nooit verantwoordelikheid hoef te vat nie terwyl die Aanstigter en Martelaar die net verdere redes en verskonings gee vir verslawingsgedrag.
Ek moet dus losmaking aanleer. Dit is om my te distansieer van die nadelige effekte wat ‘n ander persoon se verslawing op my het. In plaas daarvan om obsessief te raak oor die persoon se gedrag, moet die fokus skuif na myself.
Hou dus op met ly, krisisse skep, foute toesmeer, jouself mishandel, ander se take oorneem, krisisse probeer afweer, ensovoorts, want op die langtermyn werk dit nie. Sorg egter dat die res van die gesin se veiligheid prioriteit geniet.
Hou op om net te bestaan. Deur los te maak kan jy uiteindelik begin lewe. En soms, as sake handuit ruk, impliseer dit egskeiding.

Comments