Huweliksmaats en ouers vra: Kan ék heel word?
As jy jouself hierdie vraag afvra het jy al ver gevorder aangesien meeste mense in jou posisie eerder wil uitvind hoe hulle die verslaafde kan help. Die grootste guns wat jy jou eggenoot en jouself kan bewys, is om jouself uit te sorteer. Want dan kan die siek patrone (harde woorde, ek weet) wat verskonings bied vir die verslaafde, tot ‘n einde kom. Dit is nodig om eerstens die skuldgevoel wat jy gaan beleef aan te spreek deur dit te toets met die werklikheid. Die enigste skuld wat jy behoort te dra, is oor die kere wat jou gedrag die persoon verskonings gegee het om erger te misbruik.
Om getroud te wees met ‘n verslaafde is om gebruik te word. Dikwels (altyd?) is jy net so verslaaf aan die verslaafde as wat hy/sy aan die substans is! Dit is dus nodig om deur jou eie ontkenning te breek en in die gesig te staar dat jy ko-afhanklik is. Dit impliseer ‘n diep gebrek aan selfrespek en ‘n vrees vir verwerping.
Begin fokus op wat jy wil doen eerder as wat jy dink jy moet doen. Maak tyd vir jouself en dink aan hoe jy was voordat jy in hierdie web vasgevang was. Hoe het jou gedagtes en optrede sedertdien verander? Praat hieroor met mense wat jy kan vertrou, veral professionele persone wat spesialiseer op hierdie gebied. Dan kan jy jou lewe begin losdraai en ontknoop aangesien dit verstrengel geraak het in die verslaafde se gedrag. Jy moet dus jou energie meer na jouself kanaliseer en weer jou eie stokperdjies begin, jou eie vriende opsoek en jouself weer ordentlik versorg. Hou op skerm en skaam wees – jou huweliksmaat moet skaam wees, nie jy nie! Bid tot God dat hy julle albei sal help, kyk films en lees boeke oor die onderwerp. Krap rond op die internet en leer soveel jy kan.
Wat kan die sielkundige of psigiater vir my doen om my te help heelword?
Die sielkundige kan jou die veilige ruimte gee om te praat oor jou gedagtes, gevoelens en gedrag. Hy/sy kan ook informasie verskaf oor wat jy te wagte kan wees gedurende jou stryd. Die sielkundige sal jou evalueer en bepaal of jy self ‘n psigiatriese probleem het soos byvoorbeeld ‘n depressie. Indien wel, kan jy na ‘n psigiater verwys word vir ‘n evaluering en om onder andere jou skildklierfunksie en bloedsamestelling te laat toets. Dan kan medikasie voorgeskryf word soos nodig. Dit beteken nie dat jy mal is of dat die verslawing nou skielik jou skuld is nie!
By die sielkundige kan jy ‘n klankbord vind en begin hoor hoedat jy vir baie lank jouself mishandel het. Jy kan besef hoedat jy die beskuldigings en afkraak begin glo het en hoe jy al minder tyd aan
jouself spandeer het. In terapie kan jy ook jou eie kinderdaetraumas uitsorteer en verwerk. Jy kan verstaan wat ko-afhanklikheid is en begin werk aan gesonde onafhanklikheid. Jou reaksies op jou geliefde se gedrag kan bespreek word en nuwe maniere van optrede kan eksploreer word. Al bogenoemde kan bydra tot die opbou van ‘n gesonde selfbeeld en ‘n weerbaarheid om jou eggenoot se gedrag op die mees effektiewe manier te kan hanteer.
Wat kan ek te wagte wees op my pad van herstel?
Soos enige reis deur onbekende terrein, gaan dit nie altyd maklik wees nie. Vrees om jou geliefde te verloor, vrees vir verwerping en vrees dat jy gaan faal staan voorop. Die mense om jou is dikwels in twee kampe verdeel, die wat sê “skei en kry klaar” en die wat jou aanmoedig tot totale slawerny. Jy kan ook gevoelens van hartseer ervaar oor die verliese wat jy beleef. En wees verseker dat elke moontlike vorm van manipulasie na jou kant toe gaan kom om jou terug te suig in ou gedragspatrone in. Kyk veral uit vir pogings om ‘n skuldgevoel by jou te skep, asook dreigemente.

Comments