top of page

Jy kan van jou chemiese afhanklikheid bevry word.

Writer: Tjaart van der Walt
Tjaart van der Walt
Sep 3
3 min read

Bevry jou deur uit te breek

Die enigste manier om uit die tronk van verslawing te breek, is om deur te breek – deur die grense van ontkenning en skaamte. Dit is dus om na buite te eksternaliseer dit wat binne gewroeg het. Volgens Bradshaw (Healing the shame that binds you, 1988), behels dit die volgende:

  1. deel eerlik jou gevoelens met mense

  2. praat met minstens een nie-afhanklike persoon soos ‘n sielkundige

  3. raak deel van ‘n 12-stap AA program en woon soveel as moontlik byeenkomste by

  4. skryf en praat oor trauma – veral verwerping – sodat dit ontlont kan word

  5. gee die verlore innerlike kind-deel van jouself geleentheid tot ekspressie

  6. herken ander afgesplinterde dele van jouself en begin hulle te integreer

  7. leer om alle dele van jouself onvoorwaardelik te aanvaar en te sien hoe hulle jou vroeër eintlik probeer help het

  8. gee geleentheid vir ou onbewuste herinneringe om na vore te kom en verwerk dit

  9. praat oor jou selfbeeld en verander dit wat nodig is

  10. eksternaliseer die ‘stemmetjies’ in jou kop en begin om hul boodskappe te stop en te vervang met positiewes

  11. leer om sekere interpersoonlike situasies wat in die verlede afbrekende patrone tot gevolg gehad het, uit te ken

  12. leer om kritiek en vernedering te hanteer en selfhandhawend op te tree

  13. gee jouself toestemming om foute te maak en leer hoe om sulke foute te hanteer

  14. leer deur gebed en meditasie om ‘n innerlike plek van stilte te vind, geborge in God


Bevry jou deur op te hou weier

Baie middelafhanklike persone het ‘n dubbeldiagnose. Onderliggend aan die middelafhanklikheid lê probleme soos sosiale fobie, depressie, post-traumatiese stresversteuring ensovoorts. Dit maak nie saak wat eerste was nie, beide behoort aandag te geniet. Die korrekte prosedure sou wees om eers van die middel/dwelm onttrek te word om ‘n skoon beeld te kry van die moontlike onderliggende

psigiatriese probleem. Indien teenwoordig, kan die probleem korrek behandel word.

Een manier sou wees om in ‘n fasiliteit spesifiek ingerig vir substansonttrekking, opgeneem te word. Die psigiater bestuur die onttrekkingsproses en die sielkundige begin met psigoterapie, gesinsintervensies, voorligting, psigo-opvoeding ensovoorts. Dikwels word ‘n maatskaplike werker en arbeidsterapeut ook betrek. Dit is belangrik dat bloot net ‘n vervanging van substanse nie plaasvind nie (bv. verslaaf raak aan sterk angsiolitikum) en dat gepoog word om net die nodigste medikasie te verskaf. Opnames kan wissel van ‘n paar dae tot 9 maande, afhangend van die substans.

Die onttrekking van die substans, en die gebruik van medikasie indien nodig, is net die begin van die proses, omdat die persoon nog dieselfde mens is en omdat sy/haar omstandighede nog nie verander het nie. Dit is waar die sielkundige se terapie van onskatbare waarde is, asook die inskakeling by ondersteuningsgroepe. Terapie duur tot lank na ontslag. Die genommerde riglyne van die vorige bespreking sou op die volgende maniere in terapie aangespreek kon word:

Punt 2 - die reflektering van gevoelens; Punt 4 tot 7 – ‘n terapie van die integrasie van dele, byvoorbeeld egostaatterapie; punt 8 tot 10 – kognitiewe terapie gerig op beheer van denke; Punt 11 tot 13 – gedragsterapie om nuwe vaardighede te oefen; Punt 14 – fokustegnieke soos selfhipnose. Verskeie ander terapeutiese intervensies wat nie hier bespreek kan word nie, sou nog hierby gevoeg kon word.


Bevry jou deur ten spyte van insinkings te bly kies ten gunste van ‘n nuwe lewe

Dit is ‘n komplekse proses wat baie oefening en ondersteuning vra. Sommiges probeer jou rehabilitasie saboteer en sulke ‘vriende’ word agtergelaat, soms is daar terugslae maar elke keer probeer jy weer. Jy word gemotiveer deur elke dag wat jy skoon/droog bly, al word die lus by tye bykans onuithoudbaar. Emosies soos woede, depressie en angs word ervaar want rehabilitasie is deels verlies. Totdat jou nuwe lewensuitkyk en lewenspatroon (jou wins) uiteindelik outomaties en sonder inspanning verloop.

Comments


bottom of page