top of page

Opponerend en Dwars

Writer: Tjaart van der Walt
Tjaart van der Walt
Sep 12
2 min read

‘n Eggenoot raak dwarstrekkerig, het altyd ‘n teen-antwoord en is opstandig. Die rol wat hy of sy voorheen gespeel het en die optredes wat voorheen voorspelbaar was, het skielik met 180° geswaai. Die gedienstige en gedweë Marthatjie word skielik eiewillig, opponerend en uitdagend.


Dit kan gebeur in die privaatheid van die egpaar se huis, maar heel dikwels tussen vriende. Waarskynlik omdat dit as ‘n veilige opsie beskou word want die kans is skraal dat dit op ‘n geveg kan uitloop (en gewoonlik is daar verbale en morele ondersteuning van sekere vriende). Moontlike redes vir hierdie gedrag sluit in ‘n eggenoot wat vroeër weerhou is van persoonlike keuses en wat geforseer was om sy of haar gedrag geyk of tradisioneel te hou. Dit kan ook ‘n direkte of indirekte protesaksie wees teen ander onaanvaarbare gedrag. Dit is ook moontlik dat ‘n sekere lewensfase betree word, byvoorbeeld menopouse, en waar sulke gedrag ‘n reaksie is op die persepsie dat hy of sy

al die jare weerhou is van sekere keuses of moontlikhede.


Die gevolge vir die verhouding kan ‘n oor-en-weer dwarstrekkerigheid wees. Die ‘as-jy-my-speelgoed-breek-gaan-ek-joune-stukkender-skop’ houding. Natuurlik loop dit uit op ‘n situasie waar geeneen se behoeftes bevredig word nie en waar opoffering en kompromie by die agterdeur uitstap. ‘n Verwydering kan tussen die eggenote ontstaan en in reaksie op opstandige gedrag kan die opstandige se keuses selfs nog meer ingeperk word.


Die ideaal is natuurlik dat dit vir geeneen in ‘n verhouding nodig sal wees om so opstandig te raak nie. Maar indien dit wel gebeur, behoort die situasie so spoedig moontlik ontlont te word. Die sagte woord keer die grimmigheid af en die ontginning van die onderliggende oorsaak van sulke gedrag moet vinnig geskied. ‘n Erkenning van die gevoel gekoppel aan die gedrag, byvoorbeeld woede of magteloosheid, kan gereflekteer word asook die bereidwilligheid om aan die probleem te werk. Geen wraakgedrag behoort plaas te vind nie want so word die vure slegs hoër gestook. Wanneer ‘n oop en rustige gesprek gevoer kan word, kan maniere gevind en onderhandel word om die onderliggende behoeftes aan te spreek. Die intensiteit van die gedrag hou gewoonlik direk verband met die intensiteit van die onderliggende frustrasie. Die ongelooflike energie en krag wat in opponerende gedrag tot uiting kom

kan positief gekanaliseer word en as bron gebruik word om die oplossing na te jaag.

Comments


bottom of page