top of page

Slaap Artikel 5

Writer: Tjaart van der Walt
Tjaart van der Walt
Sep 28
3 min read

Menige lesers sal kan getuig dat ‘n gesukkel met slaap ‘n al groter probleem word soos wat die lewensjare toeneem. Ons is geneig om te dink dat dit ‘n aanduiding is dat ouer mense minder slaap nodig het as jongmense. Dit is egter nie waar nie.

Daar is verskeie redes waarom ouer volwassenes te min slaap inkry. Eerstens is daar heelwat meer onderbrekings gedurende die nag. Een oorsaak is swakker blase wat daartoe lei dat daar veel meer badkamerbesoeke plaasvind en kosbare slaaptyd verlore gaan. Slaap kan ook onderbreek word as gevolg van siektes en verskeie soorte medisyne se newe-effekte. Effektiewe slaaptyd word bepaal deur die hoeveelheid werklike slaap te deel met die hoeveelheid ure wat in die bed spandeer word, en dit dan as ‘n persentasie uit te druk. By tieners is die persentasie ongeveer 95%, terwyl dit by 80-jariges tussen 70% en 80% lê.

Tweedens is daar ‘n natuurlike afname in diep nie-REM-slaap vandat mense hulle veertigs bereik. Die afname is nie net met betrekking tot die hoeveelheid ure se diep nie-REM-slaap nie. Ook die kwaliteit van die diep nie-REM-slaap is laer. Die tipiese breingolwe wat met diep nie-REM-slaap geassosieer word, word minder asook swakker, met ander woorde laer in amplitude. Die gemiddelde 70-jarige het alreeds 80% tot 90% minder diep nie-REM-slaap indien dit vergelyk word met sy of haar tienerjare se diepslaap.

Daar is baie bewyse dat te min goeie slaap tot ‘n magdom probleme aanleiding gee. Dit sluit in nadelige effekte op konsentrasie, gemoed, bloedsuiker, geheue, bloeddruk asook verhoogde kanse vir hartsiektes en beroertes. Ouer mense wat hulp soek vir mediese probleme moet daarom baie seker maak dat hulle slaap optimaal is, aangesien dit dalk deels die oorsaak van vele siektetoestande kan wees. Al is dit nie noodwendig die oorsaak nie, kan dit ‘n bydraende faktor wees tot die instandhouding daarvan. Te min goeie slaap kan die simptome van demensie naboots en daarom moet slaaploosheid of slaaptekort eers reggestel word alvorens die diagnose van demensie gemaak word.

In ‘n vorige artikel is gesien dat tieners se biologiese horlosie vorentoe skuif en hulle raak eers ounag vaak. By ouer mense is die teendeel waar. Melatonien word al hoe vroeër vrygestel en vroegaand is dit ‘n gesukkel om die ooglede oop te hou. Soggens is hulle weer saam met die voëltjies se gekwinkeleer vroeg uit die vere. ‘n Groot fout wat mense maak, is om vroegaand te dut voor die televisie. As hulle daar wakker skrik, is die slaapdruk verlig en is dit ‘n gesukkel om weer in die bed aan die slaap te raak. So begin ‘n negatiewe spiraal waar die slaap jou al hoe vroeër en vroeër oorval. ‘n Natuurlike manier om dit aan te spreek is om elke oggend en middag buite te gaan stap. Dit is egter belangrik om soggens ‘n donkerbril te dra tydens die stap om sodoende die sonlig na die brein te filter. Tydens die middagstappie moet die donkerbril nie gedra word nie. Die voorskryf van melatonien kan ook met jou huisdokter bespreek word indien nodig.

‘n Paar dinge om in gedagte te hou is die volgende: Probeer om nie kafeïen in te neem in die eerste uur nadat jy wakker geword het nie. Bly ook weg daarvan ná tweeuur in die middag. Beperk vloeistowwe in die aand, vermy alle elektroniese skerms ná sewe saans en bly weg van alkohol en nikotien.

Comments


bottom of page