Respekloos
Wanneer ‘n huweliksmaat begin om respekloos op te tree, kan dit jou onkant betrap. Uit die bloute kom ‘n “Jissis” en jy reken dat jy seer sekerlik verkeerd gehoor het. Of in ‘n huis waar ouers en skoonouers as ma en pa aangespreek word, sluip ‘n jy en jou in of selfs “die bitch”. ‘n Telefoon word in jou oor neergesit sonder dat die gesprek afgehandel is of daar word net eenvoudig nie geluister as jy praat nie (of erger, die luister was net voorgee). Kinders word as misgewas of pateet uitgekryt tydens dissiplinering en selfs teenoor die self kan hierdie verlies aan respek kop uitsteek: afkrakende selfspraak of “pleasing”-gedrag waar jy toelaat dat mense jou misbruik. Daar is min negatiewe
gedrag wat nié as ‘n verlies aan respek gedefinieer kan word nie.
In al bogenoemde situasies is dit redelik hanteerbaar wanneer dit slegs ‘n periodieke
onverdraagsaamheid is. Dit is egter ‘n ander storie wanneer sulke gedrag ‘n gewoonte word en eskaleer. Wat lê agter hierdie verlies aan respek vir God, self en ander? Die spesifieke redes is ongelukkig uniek vir elke persoon en kan nie in ‘n paar sinne beantwoord word nie, maar oorkoepelend gesien kan die oorsake in twee breë kategorieë opgedeel word: lae selfwaarde en projeksie van lae selfwaarde. In ‘n groot mate word hierdie selfwaarde vasgelê tydens die grootwordjare.
Die gevolg vir die verhouding kan katastrofies wees want disrespek voed disrespek en ‘n bose kringloop begin: ek het min respek vir myself, ek projekteer dit op ander, die effek daarvan lei tot skuldgevoelens en dit verlaag my selfrespek weer verder. Om in ‘n huwelik hierdie probleem te hanteer vra g-e-d-u-l-d. Eerstens moet die situasie bespreek word en ‘n duidelike onderskeid moet tussen gedrag en eienskap onderskei word (‘n dom fout vs. jy is dom). Met só ‘n gesprek moet die effek van sulke gedrag op die ander se selfdunk uitgelig word. Die een wat respekloos optree moet ten alle tye met respek behandel word! Maar sy / haar gedrag moet in liefde beoordeel en aangeraak word en konstruktiewe pogings moet aangewend word om die redes te verstaan. Dit sou baie goed wees indien so ‘n persoon ‘n klompie afsprake by ‘n sielkundige kan nakom. Indien ‘n verandering uiteindelik begin intree kan alle energie op die opbou van selfbeeld gefokus word.

Comments