Roekeloos
Ongeïnhibeerde en impulsiewe gedrag raak al meer deel van my eggenoot se interaksie met die mense om hom of haar. Luide skeltaal en gevloek is aan die orde van die dag. Selfs die motor moet dit ontgeld en insidente van padwoede neem toe. En tydens rusies of selfs by ‘n braaivleis tussen vriende, raak my maat luidkeels onverantwoordelike dinge kwyt. In uiterste gevalle kan dreigemente van aanranding en moord gemaak word.
Dit kan die gevolg wees van langdurige stressituasies waaraan die persoon blootgestel is en wat die moontlikheid van uitbarstings verhoog. Ander redes sluit in ‘n onvermoë om frustrasies op sosiaal aanvaarde maniere uit te druk, ‘n persoonlikheidstipe geneig tot sulke gedrag of selfs die onvermoë om alkohol op ‘n verantwoordelike manier te gebruik. Sielkundiges het ‘n gesegde wat lui: agter intense woede lê intense pyn of hartseer. So kan depressie of die onverwerkte verlies van ‘n naby familielid as woede presenteer.
Vir die eggenoot van so ‘n persoon kan sulke gedrag skrikwekkend wees, veral tydens
onverantwoordelike dreigemente. As gevolg van vrees sal sommige maar stilbly, tevrede probeer stel en wegkwyn. Ander sal weer vuur met vuur probeer beveg en die situasie net vererger. Dit is egter belangrik om te onthou dat ‘n persoon wat so roekeloos optree waarskynlik nie beter gedragsopsies in sy of haar arsenaal het om sulke situasies te hanteer nie. Daarom kan groot bemagtiging geskied deur byvoorbeeld kursusse by te woon waar basiese kommunikasie- en effektiewe streshanteringsvaardighede aangeleer en ingeoefen kan word.
Dit is egter nie altyd so maklik om hierdie persone te oorreed om so iets by te woon nie en daarom moet die uiterste diplomasie aan die dag gelê te word wanneer die onderwerp aangeroer word. Probeer dus fokus op jul liefde vir mekaar en wat dit vir die verhouding kan beteken indien beide se gedrag verander. ‘n Ander manier is om humor te gebruik en op ‘n oordrewe maar snaakse wyse die gedrag te mimiek wanneer beide in ‘n goeie bui is. Dit kan dan, vry van negatiewe emosies, tot ‘n konstruktiewe gesprek oor die probleem aanleiding gee.

Comments