top of page

Slaap Artikel 8

Writer: Tjaart van der Walt
Tjaart van der Walt
Sep 25
3 min read

Ons eetlus word beheer deur veral twee hormone. Die eerste een, leptien, beheer die gevoel van versadiging. Hoe meer leptien afgeskei word, hoe voller voel jy. Die tweede is ghrelien en het te doen met eetlus. Hoe meer ghrelien afgeskei word, hoe hongerder voel jy en hoe hoër is jou aptyt. Ons kan hieruit aflei dat die balans tussen hierdie twee hormone van kardinale belang is met betrekking tot boodskappe wat ons noop om te wil eet.

Tydens ‘n navorsingstudie is twee gesonde groepe betrek. Die een helfte het vir ‘n week lank agt ure per nag geslaap, terwyl die ander helfte net vyf ure per nag toegelaat is. Hulle is almal presies dieselfde hoeveelheid aktiwiteite toegelaat en dieselfde kos is tydens etes aan hulle voorgesit. Leptien- en ghrelienvlakke is onder andere gemonitor. Die groep wat min geslaap het, het al vanaf die tweede dag erge hongerpyne begin ervaar. Hul leptienvlakke het verlaag, terwyl hul ghrelienvlakke verhoog was. Daar was dus ‘n dubbele effek: hulle het honger gevoel, maar kon nie werklik versadiging ervaar nie. Al die deelnemers se gedrag is fyn waargeneem. Tydens ‘n evaluering van die gedokumenteerde eetgedrag is bevind dat die minslapers ongeveer 300 kalorieë meer per dag geëet het as die genoegslapers. Indien hierdie eetpatroon vir ‘n jaar sou voortduur, is my berekeninge dat die persone met ‘n slaaptekort minstens ‘n honderdduisend meer kalorieë sou inneem as mense wat gereeld genoeg slaap inkry.

Die eksperiment is effens aangepas op die laaste dag. Almal kon in totaal vier ure in die eetkamers spandeer. Om die selfbewusfaktor te omseil, was hulle alleen tydens die etery, sodat niemand kon sien wat hulle verorber nie. Die kameras het egter verstommende gegewens waargeneem. Bo en behalwe die 300 kalorieë waarna vroeër verwys is, het die groep wat te min geslaap het, ‘n verdere 330 kalorieë ekstra ingeneem. Dit het hoofsaaklik uit ongesonde happies bestaan, naamlik koekies, sjokolade, aartappelskyfies, roomys, ensomeer. Nou trek ons al by 230 000 ekstra kalorieë oor ‘n jaartydperk...

Navorsing het ook gevind dat ‘n tekort aan slaap tot die afskeiding van meer endokanaboïedes in die bloedstroom lei. Dit stimuleer aptyt nog verder. Leptien, ghrelien en endokanaboïedes is gewoonlik wonderlike chemiese verbindings wat tot ons voordeel is. Maar wanneer ons gereeld te min slaap, verander hulle in ‘n onheilige drietal wat ons slaafs dryf tot vraatsugtige gulsbekke wat wellustig wei tussen suikers en stysels. Niemand spring die gevolge van so ‘n oorversadiging vry nie. Dit laat my dink aan Jan Rabie se skokkende kortkortverhaal met die titel: Drie kaalkoppe eet tesame.

Hoe minder daar geslaap word en hoe meer geëet word, hoe minder effektief word kalorieë bestuur, veral met betrekking tot bloedsuiker. Minder as sewe tot agt ure slaap is reeds genoeg vir gewigstoename en kan selfs tipe 2-diabetes inlei. Gesonde mense wat vir ses agtereenvolgende nagte beperk is tot slegs vier ure slaap per nag, was 40% minder effektief in die absorbering van glukose. Die selle het weerstand gebied teen die oopmaak van kanale waardeur insulien moes vloei, en die glukosevlakke in die bloedstroom het al hoër gestyg. Verder het breinskanderings gewys dat persone wat vir een nag geen slaap ingekry het nie, die primitiewe dele van die brein benut het eerder as die frontale korteks tydens die kyk na prente van allerhande soorte kos. Drifte en drange het dus die botoon oor goeie oordeel gevoer.

Vir diegene wat wil verslank, is die beginpunt dus genoeg goeie slaap elke nag.

Comments


bottom of page