Slaap Artikel 7
Kripke en sy medewerkers het ongeveer ‘n dekade gelede ‘n goeie, gekontroleerde studie gedoen waartydens ongeveer tienduisend pasiënte wat slaappille gedrink het, vergelyk is met min of meer twintigduisend individue wat geen slaapmiddels gebruik het nie. Die groepe was van soortgelyke ouderdom, ras, geslag en agtergrond. Baie faktore, soos die persone se lengte-tot-massa-verhouding, geskiedenis van oefening, rook en alkoholgebruik, is ook in ag geneem om die vergelykbaarheid tussen die groepe te bevorder. Vir twee en ‘n half jaar lank is hulle waargeneem om agter te kom wat die impak op hul gesondheid en sterftesyfer is.
Die groep wat slaapmiddels gebruik het se kans om te sterf, was vier en ‘n half keer groter as die ander groep s’n. Daar is ook gevind dat hoe meer dikwels slaapmiddels gebruik is, hoe groter die risiko was. So byvoorbeeld was die groep wat meer as ‘n derde van die aande in ‘n jaar slaappille gedrink het se kans om te sterf vyf en ‘n half keer groter as die groep van slaappilvermyders. Dié wat slegs sewentien of minder slaappille per jaar gebruik het, se kans was drie en ‘n half keer groter om die tydelike slaap met die ewige te verwissel.
Om die aanname te maak dat slaappille jou doodmaak, sal egter ‘n lui en foutiewe afleiding wees. Die antwoord is waarskynlik baie meer kompleks. Onthou dat goeie slaap ons immuunstelsel positief affekteer, wat dan help om infeksies te beveg. Mens sou dus verwag dat meer slaap as gevolg van die gebruik van slaapmiddels sal lei tot ‘n béter immuunrespons. Navorsing het egter die teendeel bewys: hoe meer slaapmedikasie jy gebruik, hoe groter is jou kans op infeksies. Dit klink teen-intuïtief, maar die antwoord mag dalk lê in die tipe slaap wat jy inkry. Die kwaliteit van slaapmiddelslaap (mooi woord nè, veral so met die middel in die middel) is laer as natuurlike slaap se kwaliteit, en die gevolg is dan ‘n swakker uitwerking op die immuunstelsel wat weer aanleiding gee tot swakker bevegting van infeksies.
Verder is die risiko vir sterftes as gevolg van motorvoertuigongelukke waarskynlik verhoog met slaapmiddelgebruik. Lomerigheid tot laat-oggend sal konsentrasie en reaksietyd affekteer. Natuurlik kan dit ook ‘n rol speel in die kans om te val tydens badkamerbesoeke in die middernagtelike ure. Dink maar aan die bloedverlies of breinskade wat opgedoen kan word met hoofbeserings teen ‘n bad se rand.
Die slaappilgebruikers het ook ‘n groter kans gehad om kanker te ontwikkel, maar weer eens beteken korrelasie nie oorsaaklikheid nie. Dit mag wees dat juis persone wat alreeds onderliggende mediese probleme het, ‘n nodigheid ontwikkel het vir slaapmedikasie. Dit is dan eintlik die voorafgaande mediese toestand(e) wat die dood veroorsaak het, eerder as die medikasie wat vir een van die simptome voorgeskryf is.
Alhoewel slaapmiddels dus nie noodwendig die direkte oorsaak van sterftes en swakker gesondheid is nie, kan ons egter ook nie aflei dat die gebruik van slaapmedikasie noodwendig tot béter gesondheid lei nie.
Mens sou heel eerstens al die natuurlike en logiese gedragsveranderinge wou maak alvorens jy die stap neem tot slaapmiddels. Dikwels is die ideale aanwending van slaapmiddels net om te help om weer in ‘n goeie slaaproetine te kom, waarna die middel geleidelik gestaak kan word. Daar is ook uitsonderlike gevalle waar dit bykans onmoontlik is om te slaap sonder slaapmedikasie, en dan is die kalf in die put. Slegte slaap is seer sekerlik beter as geen slaap. Dit is egter belangrik om al die voordele en nadele met jou dokter te bespreek. Vele pasiënte kan gehelp word deur die voorstelle soos vervat in die vorige artikel. Verder kan ‘n persoon wat opgelei is in kliniese hipnoterapie die pasiënt selfhipnose aanleer of selfs ‘n klankopname maak waarna saans geluister kan word. Vele ontspannings- en verbeeldingstegnieke is as alternatief beskikbaar.

Comments