Slordig
Die klere begin in hopies versamel: langs die bed, agter die deur, langs die wasgoedmandjie. Vuil borde en koffiebekers staan oral rond. Klere word sommer in die kas ingebondel. Dalk word die motor selde gewas of miskien bly grimering en hare kam agterweë.
Die redes vir sulke gedrag? Dit kan blote luiheid wees met die fokus van energie op ander belangriker sake of die gewoond-raak aan iemand wat maar altyd agter my skoonmaak en optel. Soms is dit die totale teenpool van perfeksionisme – waar die front van volmaaktheid in duie begin stort waar “die mense” my nie sien nie.
Die belangrikste gevolg vir die verhouding is seker die absolute skaamte wat die eggenoot ervaar. Dink maar aan die slordige tuin of daai boudgleuf wat in ‘n winkelsentrum die oog vang. Hierdie skaamte kan aanleiding gee tot erge frustrasie en woede, selfs wrewel en haat, veral as die gedrag al ‘n tydjie aankom en daar permanent agter hom of haar aan die kant gemaak word. Woordewisselings en bakleiery kan voorkom maar om te skel en baklei help gewoonlik nie. Dit is amper of woede die gedrag verder aanblaas bloot om meer reaksie uit te lok. Nog erger is die opsie om die gemors heeltyd op te ruim - dit versterk net weer die negatiewe gedrag. Om eerder kalm (en
op die geleë tyd) te sê hoe die gedrag (en wees spesifiek!) jou laat voel, asook om die verwagte alternatiewe gedrag te stipuleer sal beter resultate lewer. Indien dit nie werk nie kan alternatiewe soos humor ingespan word. ‘n Voorbeeld sou wees om te noem dat alle klere wat op ander plekke as die wasgoedmandjie gevind word, onder in ‘n kas in ‘n kartondoos gebondel sal word. Dit moenie net ‘n dreigement bly nie en soos wat die klere al minder word behoort die boodskap al duideliker aan die lyf gevoel te word.
Indien slordigheid egter gepaard gaan met onder andere swak persoonlike higiëne, vergeetagtigheid of gedisoriënteerdheid, is dit noodsaaklik om die situasie met jou algemene praktisyn te bespreek omdat dit moontlik ‘n mediese oorsaak kan hê.

Comments